Die letter B

​Die letter het net soveel negatiewe as positiewe konotasie.  Begeertes, bekommernisse, beledigings, belastering, bitterheid….. Maar aan die teenoorgestelde kant weer blydskap, barmhartigheid, beloftes, beskerming en bevryding.

‘n Vrou het krag wat kan verstom.  Ons is nie altyd fisiek sterk nie maar emosioneel kan ons laste, geluk en liefde dra.  Ons is ‘n warboel van emosie. Ons lag as ons hartseer is en huil as ons bly is. Ons veg af die bose van ons kinders en beskerm ons families met alles in ons menswees. Ons gee lewe aan lewelooses, hoop vir die hopelooses en bevryding vir ons geliefdes. God gebruik ons elke dag om Sy skildery van die lewe te verf.  Hy plaas ons waar Hy ons nodig het en gee aan ons die nodige toerusting om berge te versit.  

Dis nie altyd maklik nie.  Ons wroeg met daaglikse bekommernisse ten opsigte van is ons families veilig, is ons geldsake reg, kan ek in my kinders en vriende se behoeftes voorsien.  Dan besit die vrou nog die gevaarlikste wapen ooit, haar tong.  Vir baie is dit ‘n daaglikse roetine om belaster, beledig en af te breek.  Hulle sien nie raak die skade voor dit te laat is nie en dat moet ons ander die stukke optel en aanmekaar plak.  Beelde en emosionele welstand opbou waar daar in party situasies niks oorgebly het nie.  Dis een van die moeilikste take wat ‘n vrou kan verrig.  Jou woorde moet reg wees. Jou liggaamstaal aanvaarding en liefde weerspreek en al is jy hoe emosioneel oor die betrokke saak moet jy focus op die ander en jouself op sy skuif.  Ons vergeet dus so baie keer ons eie waarde.  

Dis dan wanneer ons moet vashou aan die beloftes wat die Here ons gee in Sy woord. Psalm 89:34 “Maar my goedentierentheid sal Ek van hom nie wegneem en My trou nie verbreek nie.” Ons is nooit alleen op die pad van bemoediging nie.  Hy is saam met ons en deur Sy gees sal Hy ons lei met die nodige wysheid. Die Here is altyd aan ons regterhand.  Hy versterk ons en plaas ons voetespore op die regte paaie.

Om barmhartig te wees is een van die selflooste bedienings.  As die Here ons ongeregthede kan vergewe en ons oortredings uitvee wie is ons om dan te oordeel. Ons moet die blydskap van Sy woord uitdra en uitleef.  Dis nie altyd maklik nie.  Die pad is ongelooflik steil en die struikelblokke baie.  Dit is egter hoekom B so belangrik is. Barmhartigheid, Bevryding, Beskerming, Blydskap en ongelooflike nimmereindende Beloftes van onvoorwaardelike liefde. 

Leave a comment