Vandag is joune

images4I3VU6VT

Hier waar ek sit is dit vandag ‘n dag van gevoel op papier sit. Dis trane verwoord en jou hart skoonmaak. Partykeer voel dit vir ‘n mens of die dae oneindig is. Dit voel of elke minuut ‘n uur is en of die dag net nie wil klaar kom nie. Saans sit mens by die huis rustig saam jou familie dan laat die donkerte buite jou vergeet van hoe laat dit is en watter dag jy deur is.

imagesHXC3SGQJ

Tyd. Een van die kosbaarste besittings. Ek dink aan Prediker 3 vers 1: “Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy eie tyd.”. Dis een ding wat ons nou goed ken. Na amper 60 dae van inperking verstaan ons tog al te goed dat elke ding in die wêreld sy eie tyd het. Jou tyd is beslis nie gemeet aan die van ander nie. Mens lees op sosiale media en in die koerante van hoe kosbaar tyd is. Wat ek egter nie kan verstaan nie, en ek is nie blond nie, is hoe kan mens geld koppel aan tyd. Hoe koppel jy die waarde van ‘n lewe, die waarde van jou gesin/familie aan die konsep tyd. “daar is ‘n tyd om gebore te word, ‘n tyd om te sterwe, ‘n tyd om te plant, ‘n tyd om plante uit te trek,” word in Prediker 3 verduidelik. Dis egter nie so maklik om te verstaan nie. Mense sterf daagliks en lewe in vrees vir wat gaan kom. Binne is ‘n mens ‘n warboel van emosie en weet die onsekerheid van oral oor. Ons kan tog nie bepaal wie lewe en wie sterf nie. Voorsorg kan gedoen word ja, maar soos die spreekwoord gaan as jou tyd daar is…

imagesC2J89BGV

As jou tyd daar is. Daai stelling vervat soveel ander en dieper gevoelens. As jou tyd daar is om ‘n verskil te maak, as jou daar is om ‘n persoon/familie in nood te help, as die tyd daar is om jou muur te laat sak en self hulp te vra al is jy hoe trots. As die tyd daar. Dis wanneer mens besef wie jy is. Jy grou daar diep binne rond en besef jy kan nie altyd die sterk een wees nie. Partykeer het almal hulp nodig, selfs jy. Jy besef dat om te vra is nie ‘n sonde nie maar om weg te kyk en jou rug te draai op dit wat saak maak, dit wat bepaal wie jy is, is wel. Die insigte in jou behoeftes is net so belangrik soos die van ander want hoe moet jy sterk staan as jy self nie meer sterk is nie. Dis dan wanneer jy begin plant.

Jy plant jou liefde en omgee. Jy saai alles wat jy binne jou het. Jy maak jou hart oop en vra. Jy kyk op en gee alles oor aan jou Vader, Pappa God. Jy sien Sy grootheid in alles raak en as jy struikel dan vertrou jy dat Hy jou sal optel want weet jy wat? Hy doen. Mens besef dit nie altyd nie maar as jy daar lê, stukkend, teen die grond, moeg en gedaan, dis dan wanneer God kom en ongesiens jou optel in Sy hand plaas. Dis dan wanneer ons moet opgee en voel of ons alleen is en niemand ons verstaan nie wat ons juis moet glo en vas staan in Sy fondasie. Ons is al by geboorte gepanser met Sy wapenrusting. Ons moet dit net gebruik om die onkruid wat hier binne ons geplant is uit te grou en die nuwe te plant. Die plantjie waar jy weet om te vra is nie ‘n sonde nie. Om te erken jy kan nie alleen regkom nie is nie ‘n oortreding van die wet nie. Dis dan wanneer die kosbaarste plantjie begin lewe, aanvaarding. Aanvaarding en liefde vir jouself.

giant2

Om te huil het sy eie tyd. Trane reinig die siel. Om te dans is nie maklik nie. Die dans van die lewe nog minder. Mens val en trap op voete en tone. Jy is partykeer nie op die maat van die musiek nie en jou deuntjie wat jy sing heeltemal vals. Die opera stuk hoef egter nie perfek te wees nie. Ons maak ons eie musiek. Ons musiek is uniek want dit word of altans is geskryf deur die Meester. Ons note verdoof net party keer en ons bladmusiek raak deurmekaar. Maar selfs dan het ons ‘n Meester Stuurman wat ons altyd weer terugbring na dit wat saak maak. Terugbring na die dans van ons eie lewens.

kers4

Dis ongelukkig nie altyd so maklik nie. Elke mens is op sy eie manier gebroke en moet op hulle eie manier uit die duisternis van vrees beweeg. Party se duisternis is soooo bitter donker dat die liggie wat moet skyn baie flou is. Dis in die tye, op moedverloor se vlakte wat mens begin diep dink. Wat mens begin grou en skaaf aan wie jy is. Mens begin kyk na jou lewe en omstandighede en moet tot verhaal kom oor waar jy is en hoe jy hier gekom het. Jy sien jou keuses is net joune. Jy het jou pad bepaal en jy moet hom stap. Dis seker een van die moeilikste goed om te doen. Jou pad stap. Almal van ons het ‘n droom. ‘n Droom van geluk. Van iemand wat jou so liefhet dat hy/sy jou sal dra deur alles en nog wat. Ons almal het ‘n droom van ‘n blink toekoms. The house with the white picket fence. Perfek. Lewenskok. Dis harde werk. Nie almal het die geleenthede om hier te kan kies nie. Partykeer eindig jy op in ‘n plek en jy het geen benul hoe jy daar gekom het nie. Die vraag is dan wat het ek gedoen om dit te verdien? Hoekom ek? Kan niks in my lewe reg loop nie? Alles vrae wat jou binne laat smag na hoop. Na iemand wat net die woorde sal uiter jy is nie alleen nie. Jy is okay. Jy sal okay wees. Maar hoe sien jy daai mens raak in hierdie ongelooflike diep gat? Jou smart verblind alles wat saak maak en eers wanneer dit voel of alles wat kosbaar is verlore is gryp ons na Bo. Hoekom dan eers? Dis veronderstel om ons eerste plek te wees. By Hom. Veilig is Sy hande waar ons nog altyd was en sal wees. Antwoord is maklik. Dis beter om die fout iewers anders en met jouself te vind as om te vra vir hulp en te glo in dit wat jy weet daar is.

imagesBE1V63AB

Ons is grootgemaak jy praat nie oor godsdiens nie en jy vra nie vir hulp nie. As jy niks het nie maak jy self ‘n plan. Jy is sterk. Jy is ‘n Afrikaner jy kan. Waarheid is nie almal is so gelukkig om so sterk te wees nie. Prediker 3: 11-12:“God het elke ding gemaak dat dit pas in ‘n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens ‘n besef gegee van die onbepaalde tyd. Tog kan die mens die werk wat God van begin tot einde nie begryp nie. Ek het tot die insig gekom dat daar vir elke mens niks beter is as om vrolik te wees en die goeie in die lewe te geniet nie.”. Sjoe die woorde brand die trane in my oë en ek besef weereens ons lewens lê is ons hande. Ons bepaal hoe ons dag gaan verloop. Ons bepaal ons tyd al is dit klaar deur God opgeskryf. Keuse is joune. Die een ding wat nooit maklik is om te doen vir jouself nie. Om ‘n keuse te maak wat goed is vir jouself. Om te dink aan jou eie behoeftes voor die van ander. Ja jou man/vrou en kinders en familie se behoeftes is net so belangrik maar wie moet met die besluit saamleef. Wie moet dit elke dag dra?

imagesLABA2BST

My uitdaging vir jou. Maak jou hart se trane leeg. Plaas al die seer en vrese en duisternis by God. Glo my ek weet dis nie maklik nie. Kyk dan op en weet jy is veilig by die een persoon wat jou liewer het as die lewe self. By God is jy veilig in Sy hand. Jy sal val maar Hy sal jou optel. Hy sal die pleisters plak en jou verbande ruil. Hy sal jou medisyne gee totdat jy beter voel. Hy is die geneesheer van alles. Vertrou Hom om jou ook gesond te maak. Kyk op en kyk vorentoe. Plaas die verlede agter jou. Dis verby en jy kan in elk geval niks verander nie. Verander jou toekoms. Vra. Praat en gee jou hart.

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s